(40) Die Psalms van Christus
Psalm 11 (1): Ongeloof in die krisis
In Psalm 11 bevind koning Dawid hom in ‘n krisis.
Die fondamente word omgegooi, hoor ons (v 3). Daaronder moet ons die grondslae van sy koninkryk verstaan. Om dit nog meer presies te sê: Dawid se koningskap, dit wat die fondament van die koninkryk is, word omgekeer deur die rewolusie van Absalom.
Maar ons sal nog dieper moet kyk. Dawid is ‘n tipe van Christus. Ten diepste gaan dit daarom om die koningskap van Christus. Die Evangelie is in gedrang. Die stryd teen Christus is ‘n kenmerk van die Bybel en die geskiedenis: Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp! (Ps 2:2-3).
Onder hierdie omstandighede kom politieke en militêre raadgewers, vriende van die koning, met goedbedoelde raad (vv 1-3: Vlug na julle berg soos ‘n voël. Vir die welgemeende raad is daar oënskynlik hegte grond: Want kyk, die goddelose span die boog; hulle het hul pyl op die snaar reggesit om in die donker te skiet na die opregtes van hart. Die vyand sit klaar gereed.
Nie alle raad van vriende is egter altyd goed nie. In sy lis maak die Satan van vertrouelinge gebruik om Dawid te mislei. Die duiwel kom in die gewaad van ‘n engel van die lig, in die gestalte van vriende.
Boonop gee die harde realiteite die vriende blykbaar gelyk: Die vyand maak reeds gereed. Hulle het al klaar die boog gespan en die pyl op die snaar gesit. Die rewolusie is reeds aan die gang. En dit is nie al nie. Wat meer is: Dawid is so swak en sy totale weerloosheid word uitgedruk met die van ‘n voël. Wanneer gevaar dreig, is daar vir ‘n voël net een uitweg en dit is om weg te vlieg.
Die vriende eindig in die lig van dit alles hulle raad met die woorde: As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen? Dit is ‘n vraag met as noodwendige antwoord: niks nie, net wegvlug.
Wat is fout met die raad van die vriende? Dat met geen woord van die HERE gerep word nie. Dit is net die mens voor en na. Die mens moet tot aksie oorgaan: vlug. Dit is ongeloof in die krisis. Na God word nie gevra en aan Hom word nie gedink nie. Die blinde raadgewers staar hulle blind teen die skynbaar harde werklikheid. Vir die Ander werklikheid het hulle geen oog, geen geloofsoë nie.
As die fondament van die evangelie in kerk en staat ondergrawe word, wat kan die gelowige dan doen? Is dit dan nie beter om te vlug nie: om te emigreer of van kerk te verander nie?
Sekerlik kan die gelowige mensie niks doen nie. Maar God kan wel alles doen. Ongeloof is nie die antwoord nie, maar geloof.
Onlangse Kommentaar