(4) KORONA. Die Vader troosryke werklikheid by ons somber statistieke
In hierdie Korona-tyd word ons nogal toegegooi onder die Korona-statistieke:
-
Soveel sterfte, soveel siekes;
-
as dit so aangaan – so bepaal die statistieke – dan sal daar teen die einde van die maand soveel dooies, soveel siekes gaan wees;
-
dan sal die hospitale oorvol wees, dan sal daar hopeloos te min ventilators wees, te min dokters, te min verpleegsters.
Syfers, syfers, syfers en – getalle grond op die HARDE WERKLIKHEID.
Soveel siek, soveel dood – dit is die KLIPHARDE WERKLIKHEID wat ons sien, waarteen ons vaskyk, wat die TV wys, ensovoorts.
Dit is DIE WERKLIKHEID wat ons SIEN – meer korrek gesê: wat ons SIEN met ons mense-ogies, met die oë van ons liggaam.
Maar Korona is nie die enigste werklikheid nie. God is ook ‘n werklikheid: ‘n HEERLIKE WERKLIKHEID.
Nee, hierdie werlikheid sien ons nie met die oog van die liggaam nie, maar met die oog van die geloof.
Sien ons hierdie WERKLIKHEID nog in ons statistieke?
Nee, nie statistieke sal bepaal wat met my gaan gebeur nie. Die Here sal dit doen. Die Here staan bo alles en bepaal alles en beskik oor alles – ja, ook hoe die lyne van ons grafieke loop.
My erfdeel is die HEER, my vreugdebeker,
my lot is in sy hand vir ewig seker. (Psalm 16:2)
Hy is mý Here, mý Vader, mý erfdeel, mý erfenis. Hom het ek geërf deur die dood van sy Seun aan die kruis. Deur die bloed van ons Here Jesus is dit vir my SEKERE WERKLIKHEID, HEERLIKE WERKLIKHEID.
My lot is nie twyfelagtig nie, my lot is nie in Korona se hand nie, MAAR
my lot is in sy hand vir ewig seker. (Psalm 16:2)
Dis die HEMELSE WERKLIKHEID, TROOSRYKE WERKLIKHEID wat ek deur die Heilige Gees sien.
En dan kan dit nie anders nie. Dan juig ek met blybskap, met vertroue:
Bewaar my tog, o God, op wie ‘k vertrou!
Ek skuil by U, my toevlug in die lewe.
Daar is vir my, in wat die oog aanskou,
geen goed bo U, so eind’loos hoog verhewe. (Psalm 16:1)
Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde. Mý Vader …
Onlangse Kommentaar