(58) Die Psalms van Christus
Psalm 62: Waarlik, ek hét rus in die Here alléén midde-in die onrus van Covid-19!
Onrus
Onrus – met hierdie woord kan die lewe van die grootste deel van die mense in ons land beskrywe word. ’n Koerant berig: die mééste mense in ons land is angstig, bang, gestress en depressief – onrustig.
Nie alleen die siekte wat Covid-19 bring nie, maar óók dit wat daarmee saamgaan, maak ons so ontsaglik onrustig: my verskriklik spanning, my ondraaglike kommer oor my werkloosheid, minder inkomste of geen inkomste nie, my besigheid wat tot niet is of tot niet gaan of inkrimp, my kinders se skoolonderrig en veiligheid, my kind wat verder studeer en nog baie meer.
Onrus deur kleingeloof en ongeloof
Die oorsaak waarom die meeste nuus en onderlinge gesprekke ons so onrustig maak, is omdat dit nie gestempel word deur geloof nie, maar voortkom uit ongeloof of kleingeloof.
Dit sluit ook ons eie kleingeloof of ongeloof in.
Hierdie onrus word deur ons nuusmedia, ons koerante en televisie, en in gesprekke van mense geskep en aangeblaas. Ons word gebombardeer met angswekkende statistieke, met negatiewe, eensydige en somber beriggewing.
Ongeloof en kleingeloof maak onrustig. Die rede daarvoor is:
- ongeloof sien nét die harde werklikheid van Covid-19;
- ongeloof is blind vir die heerlike werklikheid van God, die Vader, die almagtige, die Skepper van hemel en aarde;
- ongeloof kan vanweë sy blindheid die heerlike werklikheid van die Woord nie lees en verstaan nie;
- ongeloof sien nie die heerlike werklikheid dat ons Here Jesus Christus sit aan die regterhand van die Vader nie, beklee met alle mag.
Ongeloof en kleingeloof maak onrustig , omdat dit net op die méns en skepsele hoop en vertrou: die sondige, klein, magtelose mens.
- Ongeloof en kleingeloof hoop en vertrou op afsondering (lockdown) en vitamienes;
- ongeloof en kleingeloof hoop en vertrou op slim medici en medikasie om ons te beveilig;
- ongeloof en kleingeloof hoop en vertrou dat daar gou effektiewe medisyne en ‘n entstof sal kom.
Só probeer ons rus en veilligheid by ménse en in dinge soek.
Daarin lê die groot rede vir ons onrus: nie in ons omstandighede nie, maar omdat ons God nie meer sien staan in die storm van ons lewe en in die tsunami van Covid-19 nie.
Rus, geloof en Psalm 62
Psalm 62 het ’n donker, ’n stikdonker agtergrond.
Dit was die tyd van Absalom se opstand teen Dawid. Dit was die klipharde, pikdonker werklikheid wat Dawid gesien het, as hy maar net met die gewone mense-oog na alles rondom hom gekyk het.
Mense, koerante en die TV indoktrineer ons en beangstig ons vandag met getalle, met statistieke: die bedreiging van Covid-19 word al groter en groter; dit kom al nader en nader aan ons. Soveel mense het bygekom by die korona-getalle, soveel mense het tot vandag toe al gesterf van die siekte, soveel gaan nog siek word, soveel mense het hulle werk verloor, die ekonomie krimp met reuse persentasies. Die regering en media laat ons met statistieke en die erns van alles ’n somber werlikheid en toekoms sien. ’n Mens kry die gevoel dat die media en leiers ons doelbewus bang en onrustig wíl maak. Daar sit ’n moedswilligheid in die negatiewe beriggewing. Daar agter sit ander motiewe.
Dawid het óók groot getalle, kom ons sê maar somber statistieke, gegee. In Psalm 3 vers 2 en 3 sê hy naamlik: hoe het my teëstanders vermenigvuldig! Baie staan teen my op. Baie sê van my: Daar is geen heil vir hom by God nie.
Daarby het Dawid óók ongelowige raad mense, van sy raadgewers, gekry. Hulle het vir hom gesê: kyk, die goddelose span die boog; hulle het hul pyl op die snaar reggesit om in die donker te skiet na die opregtes van hart. Daarom was hulle raad aan Dawid: Vlug (daarom liewer) na julle berg soos ‘n voël! . (Psalm 11:1,2) Hierdie raad kom daarop neer: sorg self vir jou eie veiligheid; die oormag is te groot, te baie – dit vermenigvuldig soos die virus in ons tyd.
Ek gee my eie vertaling van Psalm 62 vers2: Waaragtig, beslis, my siel is rustig net by God en by Hom alleen; beslis, van Hom alleen is my heil! Met ‘n uitroepteken. Dawid beklemtoon dit.
Waaragtig, alléén, nét– so moet ons die woordjie ja (in die 1953-vertaling) in vers 2 verstaan. Ses maal word hierdie woord in die hele Psalm 62 gebruik. In die 1953- vertaling word dit met verskillende woorde vertaal: ja (vv 2,5) , 3 alleen (v 3), net (v 6), sekerlik (v7 ). Psalm 62 is een groot uitroepteken: beslis, net Hy alleen.
Dit is ‘n geloofs-woord .
My siel is stil, sê Dawid. Daarmee bedoel hy: hy voel heerlik rustig en kalm.
Dawid leer ons ook die oorsprong, die fontein van sy rus ken: sy Godskennis. Geloof is mos kennis. Hy het geleer Wie en Wat God vir hom persoonlik is: beslis, van Hom alleen is my heil! (v 2); Hy alleen is my rots en my heil, my rotsvesting (v 3). In ver 12 en 13 sê hy van God: aan Hom alleen behoort die sterkte, die almagtige, wat daarom ook kán help. Aan Hom behoort die goedertierenheid, die verbondsliefde en trou. Daarom sál Hy ook help.
Geloof is ook vertroue. Die ware geloof sê vol vertroue: my! Hy is my rots en my heil, my rotsvesting. Die ware geloof sê: Here Jesus, U het gesterf (Godskennnis) en U het dit óók vir my gedoen (Godsvertroue).
Nee, Dawid was nie altyd rustig nie. Hy was ’n mens soos ons. Hy het ook sy stryd teen sy eie kleingeloof geken. Daarom spreek hy homself in vers 6 aan: Wees net maar stil tot God, my siel, want van Hom is my verwagting!
Dawid het geweet waarheen hy met sy statistieke moes gaan. Hy het die weg van die gebed geken. In Psalm 3 lê hy die statistieke aan die HERE voor deur die gebed: o HERE, hoe het my teëstanders vermenigvuldig! Baie staan teen my op.
Op hierdie gebedsweg wys hy die volk ook in Psalm 62: Vertrou op Hom altyd, o volk! Stort julle hart uit voor sy aangesig! God is ‘n toevlug vir ons (v9 ). Dit is die wonder van die gebed: dat ons al die ondraaglike laste van die lewe en die Covid-19-vir Hom mag gee. Ware gebed is nie net gee nie, maar oor-gee en en weg-gee en dit vol vertroue, omdat jy God ken. Dit bring rus.
Ons het nog baie meer Godskennis as die gelowiges van die Ou Testament. Ons weet van die kruis en die opstanding en die koningsheerskappy van ons Here Jesus Christus. Ons ken hierdie woord aan ons, aan die gelowiges van vandag: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde … En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen. (Mt 28:18,20 )
God is my lig, my heil: ek sal nie vrees nie;
Hy is die HEER wat hulp verskaf in nood;
my lewenskrag, ‘k hoef nie vervaard (beangs, onrustig) te wees nie,
want by die HEER is uitkoms (selfs) teen die dood.
…
Al bou ‘n leër om my heen sy walle
om my te vang, alreeds ten dood gewy;
al kom ‘n oorlog met sy duisendtalle (die angswekkende statistiek),
ek sal nie vrees; op God verlaat ek my.
…. (Psalm 27:1,2 – Totiusberyming).
Onlangse Kommentaar