Teen kudde-immuniteit, omdat ek aan ’n ander kudde behoort
Dr AH Bogaards
16 Augustus 2021
Aan die einde van verlede week (14 Augustus 2021) het ’n baie bekende en bekwame hartchirurg, dokter Susan Vosloo, die moed van haar oortuiging gehad om teen die vaksines standpunt in te neem. Dit is belangrik en noodsaaklik dat mense soos sy op die gebied van die mediese wetenskap leiding moet gee.
Dit moét egter ook gebeur van die kant van teologiese geleerdes, professore en predikante: Ons moet as herders aan die skape leiding gee.
Daarom wil ek as predikant baie duidelik sê dat ek my nie gaan laat inent nie.
Ek wil ook duidelik as herder sê: Dit is na my persoonlike oortuiging op grond van die Skrif nie verantwoordelik nie.
Dit is vir my byvoorbeeld baie duidelik dat die entstof nie veilig is nie. ’n Mens bring jouself in gevaar deur dit jou te laat inent. Dit is teen die sesde gebod, wat ons leer dat ons onsself nie in gevaar mag bring nie.
Daar word gepraat van kudde-immuniteit wat bereik moet word, voordat ’n volgende golf gekeer kan word. Intussen het een van die leidinggewende viroloë en voorstaander van die vaksine in ons land reeds gesê dat dit onbereikbaar is. Wie bou daarom sy hoop op kudde-immuniteit bou, bou op sand, op totale onsekerheid, ja, op iets wat nooit bereik kan word nie.
Ek sal nie my veiligheid soek in ’n twyfelagtige kudde-immuniteit nie. En my vernaamste rede bo alle ander redes is dit: Ek ís nié deel van die kudde van die wêreld nie. Ek behoort deur die genade van God tot ’n ander kudde, die kudde van ons Heiland, wat ons met sy kosbare bloed ten duurste gekoop het. Teenoor die absolute onsekerheid van wêreldse immuniteit stel Hy sy immuniteit: Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie. (Johannes 10:28-29) Op grond van sy offer jubel Paulus in Romeine 8 met soveel heerlike sekerheid: Want ek is versekerd (daarvan so diep oortuig) dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.
Kudde van die Here, kan julle aan ’n heerliker sekerheid as dit dink? Dit gee ware rus.
Hy het deur die kruis ook vir my liggaam gesorg. Ook hierdie liggaam van my, wat so bedreig word deur allehande siektes, is sy kosbare eiendom. Hy is die Man van hartseer en bekend met siekte: Hy óns krankhede (Covid en al) op Hom geneem, en óns smarte—dié het Hy gedra (Jesaja 53:3,4).
Nou is daar mense wat die inenting en mediese wetenskap heilig verklaar deur dit ’n gawe van God te noem. My vraag is: Hoe weet jy dat hulle en die entstof ’n gawe van God is? Dit is ’n veralgemening. Nie alle dokters en alle medisyne is ’n gawe van God nie. Hoe kan jy dit byvoorbeeld ’n gawe noem, as dit jou skade aandoen?
Daarenteen, die grootste gawe van God, wat ek ken, is die Seun van God, die Opperherder van die skape, wat siekte en dood oorwin het.
Onlangse Kommentaar