Bid die Here om wysheid in die beproewing van ons tyd
Ons almal volg die Senekal-gebeure die afgelope tyd, ons volg dit angstig, hartseer en met groot kommer. Ons harte gaan so uit na ons boere, wat nou al soveel jare in die ondraaglikste spanning leef, die lewe laat en dierbares aan die dood afstaan. Geen pyn kan hulle beproewing beskryf nie.
En behalwe die plaasmoorde is daar nog so baie ander ondraaglike beproewings: die vreeslike werkloosheid, armoede, Covid-19, kerlkike probleme en nog baie meer.
Die beproewings van ons tyd is so ontsaglik groot en so oneindig moeilik, dat ons nie weet hoe ons dit moet hanteer en hoe ons dit alles moet dra en verwerk nie. Ons is raadop.
Maar – ons is nie die eerste gelowiges wat so voel nie. In Jakobus 1 hoor ons ook van mense, wat swaar en bitter beproef is ter wille van hulle geloof. En u moet weet: Ook hulle het – net soos ons – nie geweet hoe om dit alles te verwerk en wat om te doen nie. Ook hulle het nie geweet nie hoe om mense in die harde, klipharde nood van die lewe te begelei en te ondersteun nie.
Nee, geen mens weet dit nie. Dominees weet nie. Ouderlinge ook nie. En ook nie ons medegelowiges nie. Ons mensies het nie die antwoord nie, ons het nie raad nie,
Ons weet nie meer nie ….
Maar … daar is Een wat dit wel weet: die Here weet. Hy weet wat die mense in die tyd van Jakobus nodig het en … Hy (en net Hy) weet ook wat ons vandag nodig het: WYSHEID. Ons het WYSHEID nodig.
In hoofstuk 1 vers 5 sê Jakobus: En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.
Dit beteken: hierdie absoluut noodsaaklike wysheid ontvang ons net deur die gebed, dws hierdie wysheid ontvang ons net van God alleen.
Wat is hierdie WYSHEID?
Met wysheid word nie ’n hoë IK of ’n skerp verstand of groot geleerdheid bedoel nie.
In die Bybel beteken wysheid: om te weet hoe om uit die Woord te leef in jou probleme, hoe om die beproewings met die hulp van God en die troos van die Evangelie te verwerk. Wysheid is om na die Bybel toe te gaan vir hulp en troos en rus en vrede en leiding in jou hele lewe.
Wysheid is om in die Woord na ons almagtige en alwyse Vader te gaan. Hy kan altyd help, Hy is nooit sonder raad nie. Wysheid is om die Woord na te sê: Here, ek lê my lewe in U hande; by u is ek veilig.
Ook in Psalm 146 hoor ons van ons gebrek aan wysheid, dat ons raadop is, dat niemand ons kan help nie, dat ons nood te groot is vir mense, leiers …. MAAR dan hoor ons van Hom wat wel raad het en wel kan en sal help. Hy is ook die heel en heel enigste wat ons kan help – ook in ons tyd en in ons nood en in ons land.
Hoor hoe sing Psalm 146:3 (Totius-beryming) daarvan:
Salig (geseënd, sielsgelukkig deur Sy sorg) hy wat in die lewe,
sonder hulp en sonder raad (as niemand kan help en kan raad gee nie en planne het nie),
as hom alles wil begewe (as alle menslike hulp en steun rondom jou wegval),
vlug tot God, sy toeverlaat (sy hulp en beskerming);
en ook in die swartste nag
op die HERE alleen bly wag (vertrou).
En as ons Hom so ken en op Hom alleen vertrou en nie mensehulp nie, dan breek ons uit in blye lofsang:
Prys die HEER met blye galme,
o my siel, daar’s ryke stof!
‘k Sal, solank ek leef, my psalme
vrolik toewy aan sy lof
en Hom, wat sy guns my bied,
altyd groot maak in my lied.
Weet u wat ons vandag nodig het:
· Boere wat in Senekal hande vou;
· leiers wat hande vou;
· mense wat hande vou in elke nood.
Gebed is … hande vou. En hande vou beteken: Here, met my hande kan ek niks doen nie, maar ek lê my lewe in U hande. My hande kan die nood van ons mense nie oplos nie, maar U hande kan en sal ook, want dit is almagshande, Vaderhande.
Dit is WYSHEID.
CHRISTUS is die WYSHEID van God. Hy wat vir ons aan die kruis gesterf het; Hy wat alle mag het en met ons is tot aan die einde van die wêreld.
Onlangse Kommentaar